Woensdag, 08 Oktober 2014

Butterfly World Tropical Garden, Klapmuts, Wes-Kaap


Ek ry omtrent elke week een of twee keer op die R44 verby die Butterfly World Tropical Garden. Tot ek en twee vriendinne besluit het genoeg is genoeg en so het ons die plek gaan verken. Dit was voorwaar ‘n belewenis en uit-en-uit die moeite werd - al was daar die dag nie baie skoenlappers te sien nie.

Dit is ‘n goeie uitstappie vir die kinders. Daar soveel wat hul kan sien: talle skoenlappers tot ‘n glibberige luislang en iguanas. Iemand het eenkeer gesê “kinders is soos sponse”. Hul neem alle ervarings in, neem dinge waar en leer daaruit. Deur ‘n Saterdag-oggend af te draai van die N1 af, mag dalk vir ‘n klein woelwater ‘n uitstekende leerervaring wees – en boonop is daar lekker melkskommels!


Kostes beloop teen:

R58 vir volwassenes.
R33 vir kinders.
R53 vir pensioenarisse en studente.

Geniet dit en onthou u kamera!

Dinsdag, 07 Oktober 2014

Ons stel bekend: die Twee Oseane-akwarium!


Ek het die voorreg gehad om in die vakansie na die akwarium in Kaapstad te gaan. Was dit nou vir jou ‘n belewenis! Daar is visse en kreature van regoor die wêreld, wat saam woon in ons eie Moederstad.

Maak ‘n dag daarvan om meer te leer oor die seelewe, neem die kleingoed op ‘n lekker uitstappie of sien dit as die ideale idee vir ‘n verjaarsdagpartytjie. Neem vir oupa en ouma saam of gaan geniet dit op jou eie.

Die kostes beloop soos volg:
R125 vir volwassenes.
Gratis toegang vir kinders onder die ouderdom van 4 jaar.
R60 vir kinders (4-13 jaar oud)
R97 vir kinders (13-17 jaar oud)
R97 vir Suid-Afrikaanse studente
R97 vir Suid-Afrikaanse pensioenarisse

Dit is voorwaar ‘n genotvolle en opvoedkundige ervarving vir oud en jonk!

Maandag, 25 Augustus 2014

"Doen ek hierdie op die maklikste en effektiefste manier?"

Foto: cdn2.startupcollective.com

Ek het die voorreg gehad om in die Junie vakansie ‘n “Digital Literacy Short Course” te volg aan die Universiteit van Stellenbosch, onder leiding van Me. Casey Anley. Een van die vereistes van die kursus is om ‘n blog te skep wat einde September gekrit gaan word. Hier vandaan die geboorte van juffrouabc.blogspot.com.

Die kursus het vir my ‘n nuwe denkwyse oor onderwys gegee asook die maniere waarop ek ander kan help met my hulpbronne. Hieraan koppel ek dan die vraag: “Is daar genoeg tyd vir alles?” Die antwoord is ja. Daar is altyd genoeg tyd. Om die kwessie te oorbrug is goeie tydsbestuur en tydsberekening die wagwoorde.

Van al die insiggewende wenke en modules wat Me. Anley met ons behandel het, staan een van haar vrae steeds vir my uit: “Doen ek hierdie op die maklikste en effektiefste manier?” Hierdie vraag sal my altyd by bly en het my sover nog nét gehelp. Kom ons wees produktief in ons werk en handhaaf ‘n goeie balans in ons lewens. Jy mag jouself (en jou geliefdes) dalk net verras.

Geniet die ekstra tyd!

Woensdag, 30 Julie 2014

Uitblinkers.co.za


Uitblinkers.co.za, in samewerking met Disney Boekklub, is 'n boekklub wat gehalte kinderboeke en aktiwiteite aan hul lede bied.

Hul boekwinkel sluit verskeie leesreekse in. Die Kom ons kyk na...-reeks staan spesifiek vir my uit, omdat die onderwerpe aansluit by die grondslagfase-temas volgens die KABV. Soos herwinning, die weer en goeie maniere.
Die bekende Disney-boekreeks is ook vanaf die webtuiste beskikbaar en sluit die storieboeke Pinocchio, Sneeuwitjie, Raponsie en vele meer in. (Aparte Disney-storieboekies is ook beskikbaar by jou naaste Pick n Pay teen ongeveer R25 elk).


Die webtuiste is ook beskikbaar in Engels.

Donderdag, 24 Julie 2014

Huisgenoot Kopskuif-onnies


Huisgenoot het twee jaar gelede die skoolprojek, Kopskuif-onnies, begin. Dit behels dat hul elke jaar 'n kompetisie loots waarin jy 'n spesiale onderwyser inskryf as 'n Kopskuif-onnie kandidaat. 
(Ongelukkig het hierdie jaar se inskrywings reeds 30 Junie gesluit).

Daar word 12 wenners gekies: een wenner word elke maand bekendgestel. Die wenner kry hul eie iPad, die skool kry 'n laboratorium, asook opleiding van iSchoolAfrica en leermateriaal van Oxford University Press.

Dit is ongelooflik hoe die Huisgenoot terug gee aan gemeenskappe.
Klik hier om verder te lees oor Kopskuif-onnies se suksesverhale.

Woensdag, 16 Julie 2014

Slim? Of gevaarlik?

Foto: Thinkstock/Getty

Só lui die opskrif van 'n artikel in die Beeld se Leefstyl-deel op 16 Julie 2014. Onder die afdeling "Ouerskap" gesels Amanda de Lange oor die gebruik van tablette en slimfone onder die kleinspan. Prof. Jannie Ferreira, 'n oogkundige aan die Universiteit van Johannesburg, vertel wat die nadele is vir kinders wat te vroeg aan tegnologie blootgestel word. Van die probleme sluit in: skeelheid, aandagafleibaarheid, leerprobleme, angstigheid, vetsug en so meer.

Prof. Ferreira is pro-tegnologie, maar meen dat dit afgewissel moet word met ander speletjies en ervarings om kinders holisties te laat ontwikkel. Tegnologie kan gesien word as 'n beloning.

Me. Lizette van Huyssteen, stiger van die Practica-program in Suid-Afrika, lê klem op die feit dat kinders  leer deur die interaksies met hul omgewing. Ons moet dus nie vergeet van die regte wêreld, wat kinders se primêre vorm van leer is nie. Hul moet die kans gegun word om dit optimaal te ervaar en te benut.

Geniet dus tegnologie as 'n bederfie, maar weet wanneer om die tablet opsy te skuif en verken die wêreld rondom jou.

Klik hier vir die volle artikel.